Die ontdekking van ’n nuwe lid van die Akidnognathidae, die karnivore wat die bestaan van Pangea bevestig

The discovery of a new member of the Akidnognathidae, the carnivores that confirm the existence of Pangaea

Authors

DOI:

https://doi.org/10.36303/SATNT.2025.44.1.3058

Keywords:

Akidnognathidae, karnivore, Pangea, bevestig

Abstract

Pangea (“hele Aarde”) het tydens die Karboon-periode, ongeveer 335 miljoen jaar gelede (mjg.), gevorm toe al die kontinente saamgesmelt het om ’n enkele superkontinent te vorm. Ongeveer 200 miljoen jaar gelede, in die Trias-periode, het Pangea uitmekaar begin skeur om ’n noordelike superkontinent, Laurasië, en ’n suidelike superkontinent, Gondwanaland te vorm. Die superkontinent Gondwanaland het verder tydens die Kryt-periode finaal opgebreek om Suid-Amerika, Afrika, Australië, Antarktika, Indië en Madagaskar te vorm.

Die bestaan van superkontinente is oorspronklik hoofsaaklik met behulp van die verspreiding van fossiele bepaal. Fossiele van dieselfde, of naasververwante spesies, op verskillende kontinente word as ’n bewys beskou dat daardie landmassas in die verlede aan mekaar gekoppel was. Aangesien die fossiele van ’n sekere tydperk dateer, kan mens afl ei dat daardie landmassas in daardie tydperk gekoppel was.

Reeds vir meer as ’n eeu het paleontoloë bewyse gevind dat Gondwanaland in die Perm-periode (280-190 miljoen jaar gelede) bestaan het. Die eerste bewys van hierdie oerkontinent se bestaan is deur die verspreiding van fossiele van die oerplant Glossopteris bevestig. Fossiele van Glossopteris, wat vanaf die Karboon- (280 mjg.) tot die eind-Perm-periode (252 mjg.) bestaan het, is in Suid-Afrika, Indië, Australië, Suid-Amerika en Antarktika ontdek. Die verspreiding van werweldierfossiele soos Mesosaurus en Cynognathus het verdere bevestiging van die verbinding tussen Suid-Amerika en Afrika tydens die Perm-periode verskaf, terwyl die fondse van Lystrosaurus-fossiele in Antarktika, Afrika, Indië en China bewys gelewer het dat die verbinding tussen Gondwana en Laurasië, die noordelike superkontinent, tot in die Vroeë Trias-periode, diere in staat gestel het om tussen die twee superkontinente te migreer.

Die verspreiding van die lede van die karnivoriese sinapsiedfamilie, die Akidnognathidae, verskaf verdere bevestiging van hierdie verbinding tussen die twee superkontinente in die Perm- tot die Trias-periode. Fossiele van die Akidnognathidae kom hoofsaaklik in Suid-Afrika voor, maar daar is ander spesies wat in China en Antarktika ontdek is, wat bewys lewer dat hierdie unieke groep van die noordelike tot die suidelike uithoeke van die aarde tydens die Trias-periode voorgekom het.

Ingedien: 25/06/25
Aanvaar: 17/10/25
Gepubliseer: 18/11/25

Author Biographies

J Lloyd, Universiteit van Johannesburg

Departement Dierkunde, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika

F Durand, Universiteit van Johannesburg

Departement Dierkunde, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika

Downloads

Published

2025-11-18

Issue

Section

Oorspronklike Navorsing