Waar spoke nog speel: ’n Queer verkenning van die affektiewe rol van die spookagtige plaasruimte in CJ Langenhoven se “Die bouval op Wilgerdal”
Where Ghosts Still Play: A Queer exploration of the affective role of the haunted farm in CJ Langenhoven’s “Die bouval op Wilgerdal”
Keywords:
queer, queerheid, queerlesing, spookverhale, unheimliche, CJ Langenhoven, hauntologie, affekteorie, spektraliteitsteorie, Gordoniaanse hauntologie, affek, plaas, Afrikaanse literatuur, grondbesit, Afrikaneridentiteit, gesinsafskaffing, heteronormatiwiteit, heteroreproduktiewe toekomstigheidAbstract
In hierdie artikel word queerlesing gebruik om die vroeë twintigste-eeuse Afrikaanse spookverhaal “Die bouval op Wilgerdal” deur CJ Langenhoven te ontleed. Die studie benader queerness as ’n ontwrigtende politiek wat samelewingsnorme uitdaag, veral in die konteks van literatuur. Queerlesing word gebruik as ’n metode wat verborge betekenisse in tekste onthul, veral dié wat in stryd is met normatiewe interpretasies. Queerlesing word met Gordoniaanse hauntologie, die unheimliche en affekteorie in verband gebring. Die artikel illustreer die affektiewe rol van die plaas in die Afrikaanse letterkunde en demonstreer hoe die plaasruimte historiese lae, identiteit en affek verteenwoordig. Daar word aangevoer dat Langenhoven se verhaal die konvensionele uitbeelding van die plaas ondermyn deur dit ’n unheimliche ruimte te maak, wat sodoende kritiek lewer op die sentraliteit van die plaas in prosesse van Afrikaneridentiteitsvorming. Aan die hand van die queerlesing van die verhaal word aangevoer dat die ware spokery van die Wilgerdalplaas die ontwrigting van die Van Graanfamiliebloedlyn en die verlies van hul verbintenis met die grond is. Sodoende destabiliseer die verhaal die konvensionele patrone van Afrikaanse literatuur oor plase. Uiteindelik ontbloot die verhaal die unheimliche aard van die plaasruimte oor die algemeen en die Afrikaner se onbestendige verhouding daarmee deur middel van die skakel tussen bonatuurlike bedreiging en die plaasruimte sowel as die verqueering van familiale waardes in die besonder. Die narratief spoor die Afrikanerleser aan om van aangesig tot aangesig te kom met die spoke wat Afrikanerhuise bewoon, en spreek moontlik tot die Afrikaner se vrese oor die voortbestaan van die Afrikanerfamilie en grondbesit, vrese wat tot vandag toe voortduur.