Die taallandskap van die vrou in rooi rose (1948– 2020)
The linguistic landscape of women in rooi rose (1948–2020)
Keywords:
taal en gender, taalseksisme, korpus, korpuslinguistiek, vrouetydskrif, rooi rose, aanspreekvorme, vroulike selfstandige naamwoorde, generiese hyAbstract
Hierdie artikel ondersoek die taallandskap1 van die Afrikaanse vrou soos wat dit te sien is in die rooi rose van 1948 – 2020 en vra of hierdie landskap, veral wat taalseksisme betref, soos te siene in rooi rose sedert 1948, verander het. Die rooi rose-korpus was die databron wat ontleed is met die moontlikhede wat korpuslinguistiek as metode bied.
Die studie val in die sosiolinguistieksubveld wat in die breë as die taal-en-gender-veld bekend staan. Taalseksisme val in hierdie deelgebied. Taalseksisme (en gepaardgaande stereotipering) kom voor wanneer daar deur en in taal teen ’n geslag of gender gediskrimineer word.
Kwantitatiewe navorsing is gebruik om frekwensies van leksikale items soos aanspreekvorms en titels, die generiese hy en manlike en vroulike persoons- en beroepsname vas te stel. Soekwoorde binne konteks, soos wat verkry word in konkordansiereëls, asook kollokasies is kwalitatief ontleed.
Die gevolgtrekking waartoe die studie kom, is dat daar verandering op te merk is wat die gebruik van sommige leksikale items betref. Daar is ’n frekwensieafname te bespeur in sommige titels en aanspreekvorme, maar die neutrale me (wat nie onderskeid tref wat huwelikstatus betref nie) word nie in die korpus aangetref nie. Afrikaans volg die wêreldtendens deur sommige manlike en vroulike selfstandige naamwoorde te vervang met een naamwoord wat na beide mans en vrouens kan verwys. Daar is egter nog tekens van taalseksisme in die korpus. Die generiese hy word tot 2020 nog baie gebruik en onderskeid word ook nog getref wat betref die huwelikstatus van vroue.