(On)bevooroordeelde benaderings tot die bevindings van wetenskaplike ondersoek: ’n Reaksie op die geloof-wetenskap-diskoers

(Un)biased approaches to the results of scientific research: A reaction to the faith-science discourse

Authors

  • Henk Stoker Noordwes-Universiteit

Keywords:

geloof, wetenskap, bronnehipotese, Pentateug, Genesis, Intelligente Ontwerp, skepping

Abstract

Dit klink ongehoord om sensuur op artikels te wil toepas, wanneer dié artikels op grond van natuurwetenskaplike navorsing aandui dat die bevindinge in ooreenstemming is met dit wat ’n groot deel van die wêreldbevolking glo. Tog is ’n onlangse voorbeeld hiervan die reaksie op vier artikels wat in 2023 in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) gepubliseer is. In hierdie artikels is die resultaat van natuurwetenskaplike en kosmologiese navorsing wat op ’n hoogs intelligente en presiese ontwerp in beide makro- en mikrokosmos dui, bespreek. Die navorsingsresultate dui daarop dat daar ’n intelligente ontwerper van die kosmos moet wees.

In sy reaksie op die vier artikels, erken Spangenberg die geldigheid van die navorsingsresultate, maar hy voer aan dat dit nie met die eerste vyf boeke van die Bybel vergelyk kan word nie, aangesien laasgenoemde nie betroubaar is nie. Gegrond op sy ewolusionistiese siening van godsdiens, beweer hy dat die Pentateug as ’n bloot menslike samestelling van verskeie en teenstrydige dokumente ontstaan het. Resente Bybelwetenskaplike navorsing dui egter heelwat probleme met hierdie bronnehipotese aan, met die gevolg dat navorsers terugkeer na die siening dat die Pentateug grootliks deur een outeur saamgestel is, ’n geheel vorm en as sodanig betroubaar is.

Anders as wat Spangenberg met sy verwysing na Galileo beweer, staan die Christendom nie in die pad van goeie navorsing nie. Christen-denkers het deur die eeue heen kosbare wetenskaplike werk gedoen en boonop verskeie universiteite gestig en befonds. Wetenskaplike ondersoek vereis ’n onbevooroordeelde benadering, wat die geleentheid skep dat bevindinge eerlik geïnterpreteer kan word om tot die mees waarskynlike gevolgtrekkings te lei.

Author Biography

Henk Stoker, Noordwes-Universiteit

Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Downloads

Published

2024-06-28

Issue

Section

Aktueel