Opname van bosluisspesies op Paradys-proefplaas van die Universiteit van die Vrystaat
Survey of tick species on Paradys experimental farm of the University of the Free State
Abstract
Bosluise is belangrike bloedsuiende ektoparasiete wat op ’n wye reeks van gashere, soos beeste, skape en honde, voed. Dit is bekend dat bosluise wêreldwyd vir enorme verliese in die veeproduksiebedryf verantwoordelik is. ’n Groot rede vir hierdie verliese is die verskeie siektes wat deur bosluise na die beeste tydens die bosluise se voedingsproses oorgedra word. Sommige van die siektes veroorsaak ’n verlaging van produksie-uitsette soos melk en vleis, terwyl ander tot die dood van die beeste kan lei. Elke bosluisspesie is uniek, dus is verskillende spesies draers van verskillende siektes soos Amyblomma hebraeum wat hartwater en Rhipicephalus decoloratus wat rooiwater versprei. Volgens die Dieresiektes Wet 35 van 1984 is die staat verantwoordelik vir die beheer van verskeie siektes insluitende bosluisoordragbare siektes. Die bruinoorbosluis, Rhipicephalus appendiculatus, is ’n belangrike vektor van korridorsiekte en ooskuskoors in Suid-Afrika en beide hierdie siektes word deur die staat beheer soos bepaal deur die genoemde wet. Die verspreidingspatrone van die bosluise word dus deur die staat gebruik om genoegsame hulpbronne beskikbaar te stel om sodoende ekonomiese verliese, veroorsaak deur die bosluise, te voorkom.