Die sintese van nuwe Guerbet-tipe en lineêre N-alkielaminosuursurfaktante
The synthesis of novel Guerbet-type and linear N-alkylamino acid surfactants
Abstract
Aminosuursurfaktante word al meer ondersoek aangesien dié klas surfaktante oor verlangde eienskappe soos bioafbreekbaarheid en bioversoenbaarheid beskik (Tripathy et al., 2018). Hierdie surfaktante kan vanaf natuurlike aminosure soos iminodiasynsuur (IDA), of aspartiensuur (ASP), gesintetiseer word (D’Aniello, 2007). Tans is algemene surfaktante soos lineêre alkielbenseensulfonate, alkielfenoletoksilate en kwaternêre dialkiele byna heeltemal uit die Europese en Amerikaanse markte verwyder (Bordes & Holmberg, 2015). Hierdie surfaktante word deur meer omgewingsvriendelike surfaktante vervang in ’n proses wat nie net deur wetgewing gedryf word nie, maar ook deur verbruikersaanvraag. Aminosuursurfaktante soos lourielglutamaat is bekend vir hul goeie bioafbreekbaarheidseienskappe. Die aminosuurkopgroep vermeerder die aantal mikrobes in die grond wat tot ’n toename in die afbraak van die olierige stert kan lei. Chen et al. (2013) het lourielglutamaat gebruik om die bioafbreekbaarheid van hoë-viskositeit indeks HVI 350-mineraalolies te verhoog. Zwitterioniese aminosuursurfaktante soos kokoamidopropielbetaïen word veral in die kosmetiese nywerheid in sjampoes en vloeibare seep gebruik. Alhoewel hierdie klas surfaktante verskeie toepassing in die nywerheid het, kan die sintese daarvan uitdagend wees.