Evaluering van die microBIOMETER®-veldtoetsstel en ander grondgesondheidsaanwysers in drie verskillende gronde van die Wes-Kaap Provinsie
Evaluation of the microBIOMETER® field test kit and other soil health indicators in three diff erent soils of the Western Cape Province
Keywords:
aggregaatstabiliteit, aktiewe koolstof, grondgesondheid, microBIOMETER®, mikrobiese aktiwiteit, protosoë, Solvita® CO2-BurstAbstract
Daar is toenemende kommer oor agteruitgang van grondgesondheid en -kwaliteit, onder andere as gevolg van klimaatsverandering en toenemende druk op landbouers om meer voedsel te produseer. Ten einde iets te monitor, moet dit gemeet word. Verskeie aanwysers vir grondgesondheid het die afgelope dekades die lig gesien. Die meerderheid van hierdie toetse is laboratoriumgebonde en genoodsaak vervoer en berging van grondmonsters wat die grondlewe beïnvloed. Die microBIOMETER® is ‘n veldtoetsstel wat die mikrobiese biomassa, persentasie swamme en bakterieë, asook die swam:bakterieverhouding binne minute met behulp van ‘n selfoontoepassing kan meet. Hierdie toetsstel is in drie verskillende grondtipes met verskillende bestuurspraktyke in die Wes-Kaap Provinsie, Suid-Afrika, getoets. Terselftertyd is vyf laboratoriumgebaseerde toetse wat tans beskikbaar is, ook op dieselfde grond uitgevoer, naamlik: aktiewe koolstof, mikrobiese aktiwiteit, protosoë, persentasie organiese koolstof, ammoniumstikstof en mikrobiese respirasie. Die verskillende grondtipes het verskillend op die toetse gereageer. Al die toetse, insluitend die microBIOMETER®, kon sommige van die grondtipes en bestuurspraktyke uitwys. Dit is duidelik dat al die toetse in hierdie studie verskillende aspekte van die grond getoets het. Dit word aanbeveel dat meer as een toets gebruik word ten einde grondgesondheid en -kwaliteit te meet en dat vergelykings binne grondtipes en grondgebruik en oor die verloop van die seisoene gedoen word. Verdere navorsing mag moontlik ‘n stel toetse vir ‘n spesifi eke grondtipe en/of gebruik kan identifiseer.