Selfbewussyn as dialektiek tussen subjek en objek in Hegel se Phänomenologie des Geistes

Self-consciousness as dialectic between subject and object in Hegel’s Phenomenology of Spirit

Authors

  • Hercules Boshoff Noordwes-Universiteit

Keywords:

absolute, subjek, objek, krag, natuurwet, onmiddellikheid, opgehefde onderskeid, sekerheid, selfbewussyn, verstand, waarneming

Abstract

In hierdie bydrae sal aangetoon word op welke wyse Hegel in die Phänomenologie des Geistes (1988; hierma FvdG (2013)) betoog dat subjek en objek nie afsonderlik van mekaar bedink kan word nie. Die antwoord op hierdie vraagstuk lê in ’n bepaalde toeëiening van die begrip an die absolute wat as dialektiese bemiddeling tussen subjek en objek dien, waaruit die begrip van selfbewussyn na vore tree. Selfbewussyn is nie alleen ’n hoër vorm van subjektiwiteit nie, maar vorm deel van die groter werklikheid van subjek en objek. Enersyds is die belangrikheid van hierdie vraagstuk van so ’n aard dat dit verdien om geïsoleerd binne Hegel se Phänomenologie bespreek te word, en andersyds moet die vraagstuk gekontekstualiseer word sodat die wyer debatte waarbinne Hegel se antwoord op hierdie aangeleentheid neerslag vind, ook die nodige aandag kry. Ten slotte moet daar ook gewys word op die posisie wat hierdie onderwerp binne Hegel se eie sisteem beklee, naamlik as oorgang tot die begrip van Anerkennung, bloot om die problematiek van denke oor die selfbewussyn as geïsoleerde onderwerp uit te wys.

Die debat rondom die verhouding tussen subjek en objek sal vanaf Kant gerekonstrueer word, met die twee sleutelfigure van Fichte en Schelling as verteenwoordigers van uiteenlopende strominge waaruit Hegel geput het. Beide staan egter ’n bemiddelende, spekulatiewe /toevoeging tot die subjek-objek-verhouding, die absolute, voor. By Fichte staan die absolute nader aan die subjek en by Schelling die objek, oftewel die natuur. Hegel neem elemente by beide oor maar behou die absolute as bemiddeling. In die eerste drie hoofstukke van Hegel se Fenomenologie van die Gees (FvdG) word die objektiewe aanspraak wat die wetenskap op die waarheid maak ondersoek en word dit as ontoereikend aangebied aan die hand van die inherent weersprekende begrippe (dat ’n ding tegelyk uit ’n eenheid en veelheid van kragte kan bestaan) waarvan dit noodwendig gebruik maak om wetenskap te kan wees. Hiermee wil Hegel nie die wetenskaplike metode as sodanig irrelevant verklaar nie, maar poog om die groter beweging wat die begrip van objektiewe eksterne werklikheid moontlik maak, te identifiseer en uiteindelik te inkorporeer by ’n meer omvangryke begrip van waarheid. Sodanige omvangryke begrip sal noodwendig rekening moet hou met die subjektiewe; die verstandsaktiwiteit waaruit begrippe gevorm word. Anders as by sy voorgangers (Descartes en Kant) beweer Hegel egter nie dat die subjektiwiteit die werklikheid omvat nie, vandaar sy gebruik van die begrip van die fenomenologie, wat op die gebeurtenis van die verskynsels fokus. Die ware is nie ’n afgesonderde noumenale sfeer wat nooit deur die subjek geken kan word nie, maar ontvou as dít wat ten dele deur die subjektiewe, die interpreterende selfbewussyn, oopgemaak word. Ten slotte dra die besef van die wederkerigheid van subjek en objek by tot die totstandkoming van die selfbewussyn, ’n begrip wat wys op die verweefdheid van bestaan (syn) en self.

Drie fases van die objektiewe opvatting van die werklikheid word in die proses van die totstandkoming van selfbewussyn uitgedaag: die aansprake van die sintuiglike sekerheid, die waarneming (gegrond op Hume se sogenaamde “secondary impressions”) en ten laaste die begrip van krag as dit wat onderliggend aan alle liggame is. Hegel wys daarop dat die selfbewussyn nie die resultaat, of passiewe waarnemer is van die werklikheid soos dit in die wetenskap voorgestel word nie, maar dat dit ’n noodsaaklike bydrae lewer om die werklikheid van die wetenskap te postuleer sonder om die gewaarwording tot subjektiwiteit te reduseer. Die objektiewe en die subjektiewe is nie twee geskeide domeine van die werklikheid nie, maar gee gelyktydig aan mekaar oorsprong. Laastens sal daarop gewys word dat selfbewussyn nie eenduidig is nie, maar in verhouding staan tot ander selfbewussyne.

Author Biography

Hercules Boshoff, Noordwes-Universiteit

Buitengewone navorser, Skool vir Filosofie, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Downloads

Published

2024-09-28

Issue

Section

Navorsings- en oorsigartikels