Die rol van die produksiegaping in Suid-Afrikaanse monetêre beleid
The role of the output gap in South African monetary policy
Keywords:
produksiegaping, potensiële produksie, monetêre beleid, inflasie, meerveranderlike filterAbstract
Die inflasiekoers en die produksiegaping speel ’n belangrike rol in die monetêrebeleidstandpunt. Alhoewel die publiek inflasie redelik goed verstaan, is die produksiegaping ’n relatief onbekende begrip. Definisies van potensiële produksie kan dubbelsinnig wees, aangesien die term dikwels gebruik word om verwante, maar logies afsonderlike, konsepte te beskryf. Die produksiegaping word ook nie direk waargeneem nie en word afgelei uit beramings van potensiële produksie, wat self nie waarneembaar of meetbaar is nie en dus beraam moet word. Hierdie beramings kan egter sensitief wees vir verskillende metodologiese paradigmas en databeskikbaarheid.
Die doel van hierdie artikel is om by te dra tot ’n beter begrip van en groter deursigtigheid in plaaslike monetêre beleid deur die rol van die produksiegaping in Suid-Afrikaanse monetêre beleid te verduidelik. Eerstens word die idees onderliggend aan die konsep van die produksiegaping bespreek, waarna ’n werksdefinisie van die produksiegaping in die konteks van monetêre beleid voorgestel word. Verskeie metodologieë en empiriese tegnieke waarvolgens potensiële produksie en die produksiegaping beraam kan word, word bespreek, insluitende eenveranderlike statistiese tegnieke, strukturele modelle en semistrukturele benaderings. Die artikel verduidelik voorts hoe die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) die plaaslike produksiegaping beraam en hoe hierdie beraamde produksiegaping op die monetêrebeleidstandpunt inwerk. Ten slotte word die SARB se monetêrebeleidstandpunt beskou met betrekking tot die inflasiekoers en produksiegapingsberamings oor die afgelope twee dekades ten einde die reaksie van die plaaslike monetêre beleid op groot ekonomiese skokke soos die wêreldwye finansiële krisis en COVID-19 te illustreer, en ten einde die beramings se sensitiwiteit vir data hersienings uit te lig.