Faktore wat tot die totstandkoming van die Middel eeuse universiteit as instelling bygedra het

Factors that contributed to the establishment of the Medieval university as an institution

Authors

  • Morné Diedericks Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies

Keywords:

Authentica Habita, gildestelsel, Middeleeuse Universiteit, Universiteit van Bologna, universiteitsgeskiedenis, universiteitswese

Abstract

Deur die eeue heen moes instellings soos universiteite dikwels hervormings ondergaan as gevolg van beduidende veranderinge of onstabiliteit. Die einde van die 20ste eeu is gekenmerk deur ’n nuwe golf van hervorming, wat steeds voortduur. Hierdie  hervormings is aangepor deur faktore soos die massifikasie van universiteite, oproepe tot dekolonialisering en tegnologiese veranderinge in die 21ste eeu. Die vraag, Wat is ’n universiteit? of Wat behoort ’n uni versiteit te wees?, het as gevolg hiervan ontstaan. Verder het die hervormingstydperk aanleiding gegee tot indringender geskiedkundige studies oor die ontstaan en ontwikkeling van universiteite.

Om die totstandkoming van die eerste universiteite beter te verstaan, speel stigtingsdokumente en agtergrondinligting van die universiteit ’n belangrike rol. Wanneer die wese van die universiteit ondersoek word, is dit belangrik om die ontstaan van die  Middeleeuse universiteit te bestudeer. Wat Middeleeuse universiteite uniek maak, is die ontwerp van ’n model wat wêreldwyd in gebruik geneem is. Teen dié agtergrond is die navorsingsvraag van hierdie artikel: Wat is die faktore wat tot die totstandkoming van die Middeleeuse universiteit as instelling bygedra het?

Verskeie faktore, soos die gildestelsel, ekonomiese welvaart en intellektuele ontwikkeling in Europa gedurende die laat Middeleeue, erkenning van die universiteit deur owerhede en die stabilisering van die universiteit deur die formulering van reëls en statute oor hoe ’n universiteit moet funksioneer, is met behulp van navorsing geïdentifiseer. Hierdie faktore was ook aanwesig tydens die stigting van een van die eerste universiteite, en die effek daarvan op byvoorbeeld een van hierdie oudste universiteite, naamlik Bologna word ook in hierdie artikel bespreek. Faktore wat bygedra het tot die totstandkoming van die Middeleeuse universiteit is steeds van toepassing op moderne universiteite en behoort as minimum vereistes beskou te word.

Author Biography

Morné Diedericks, Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies

Lektor, Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (AROS), Pretoria

Downloads

Published

2024-12-09

Issue

Section

Navorsings- en oorsigartikels