’n Bestekopname en korpus van hedendaagse Wetenskapsafrikaans
A survey and corpus of contemporary Scientific Afrikaans
Keywords:
Akademiese Afrikaans, Wetenskapsafrikaans, formele taalgebruik, formele korpus, hoë funksie van taalAbstract
Dié artikel lewer verslag van ’n proses wat uitgevoer is om ’n tweeledige leemte rakende ons verstaan van die gebruiksvariëteit Wetenskapsafrikaans na te vors. Eerstens bied ons ’n bestekopname aan waarin ons die omvang en stand van Afrikaans as wetenskapstaal ondersoek. Ons pak hierdie bespreking vanuit beide ’n diakroniese en sinkroniese perspektief aan deur eerstens ’n kort historiese oorsig te gee van die ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal, en tweedens ’n inventaris aan te bied van wetenskaplike Afrikaanse publikasies wat in die tydperk 2004 tot 2018 gepubliseer is.
Tweedens lewer die artikel verslag van die proses van die saamstel van ’n omvattende en verteenwoordigende Wetenskapsafrikaanskorpus wat taalkundige navorsing oor die spesifieke gebruik en aard van hierdie variëteit moontlik sal kan maak. Die saamstel van ’n korpus van Wetenskapsafrikaans, naamlik die VivA-Wetenskapsafrikaanskorpus 1.01 (2025), is ’n direkte uitvloeisel of produk van die bestekopname. Danksy die ontwikkeling van hierdie korpus kan een aspek van die beoefening van wetenskap in Afrikaans gekarteer word, naamlik die publikasie van Afrikaanse artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte tussen 2004 en 2018. Met ’n grootte van ongeveer 23 000 000 woorde bied die korpus ’n blik op die aard van Wetenskapsafrikaans, oftewel die wyse waarop hierdie gebruiksvariëteit in Afrikaans aangewend word.