Boublok en poolster: Deurdagte oplossings vir hardnekkige taalprobleme
Building blocks and lodestars: Well-considered solutions for persistent language problems
Keywords:
toegepaste taalkunde, taalingrypings, ontwerp van taalingryping, teorie, fundamentele begrippe, fundamentele idees, taalbeleide, taalkursusse, taaltoetseAbstract
Omdat ons waardering vir die werk van Christo van Rensburg dikwels wentel om die oorspronge van Afrikaans, onderskat dit miskien sy bydrae tot die totstandkoming van betekenisvolle taalingrypings, soos die oprigting van die Universiteit van Pretoria se Eenheid vir Akademiese Geletterdheid. Hierdie bydrae pluis die konseptualisering van sulke inisiatiewe deur middel van die toegepaste taalkunde uit. Die toegepaste taalkunde word hier gedefinieer as ’n dissipline gekenmerk deur ontwerp. Taalintervensies se ontwerp staan sentraal daarin, selfs in die breedste definisies van die veld. Om egter verantwoordelik te kan ontwerp aan taalbeleide, taalkursusse en taaltoetse, soek die ontwerpers van hierdie ingrypings teoretiese begronding. Di e ondersteunende teorie kom nie altyd uit die taalkunde nie, maar uit ’n verskeidenheid ander dissiplines. Ontwerp is die kern van wat ons die tegniese modus van ons ervaring kan noem.
Die begronding van verantwoordelike ontwerp vind ons deur die konneksies tussen die tegniese modaliteit van ontwerp en ander modusse van ons ervaring te ondersoek. Twee stelle tegniese insigte, tegniese begrippe en tegniese idees, word onderskei. Vanuit hierdie vertrekpunte kan ons sowel die boublokke, die basiese begrippe van taalintervensie-ontwerp, as hul teëhangers, die tegniese poolsterre wat ons ontwerp op die toekoms rig, onderskei. Die fundamentele begrippe van tegniese eenheid, tegniese beperkings, tegniese reëlmatigheid, effek, differensiasie, aantreklikheid en teoretiese regverdigbaarheid word eers aan die orde gestel. Daarna kom die rigtinggewende tegniese idees van betekenisvolheid, implementeerbaarheid, doeltreffendheid, belyning, regverdigheid, billikheid en gesaghebbendheid aan die orde. Tesaam nooi hierdie beginsels die ontwerpers van taalingrypings uit om verantwoordelik aan hulle gestalte te gee.