Die rol van die 1920-proefvertaling in die ontluiking van Afrikaans as ’n Bybeltaal
The role of the 1920 trial translation in the development of Afrikaans as a Bible language
Keywords:
vertaalkunde, Kobus Marais, Christiane Nord, Bybelvertaling, proefvertaling, trajek, taalontwikkeling, skryftaal, omgangstaal, hedendaagse taalgebruik, aanspreekvorm, voornaamwoord, eienaam, betreklike voornaamwoord, attributiewe byvoeglike naamwoord, wisselvorm, kerktaal, Seun van die Mens, Afrikaanse digkuns 1925–2024, NederlandsAbstract
Nadat die Vrystaatse Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk goedkeuring verleen het vir ’n vertaling van die Bybel in Afrikaans tydens die sitting van 25 Mei 1916, het die vertalers voor ’n moeilike probleem te staan gekom. As skryftaal het Afrikaans nog nie ’n vaste vorm gehad nie en daar moes derhalwe na ’n eenvormige standaard gesoek word. Om dit te verkry, het die vertalers op 4 April 1917 besluit om eers ’n voorlopige vertaling van die Evangelie van Johannes, die boek Hosea en die boek Jona te maak en dit privaat te sirkuleer sodat ’n standaardteksvorm vasgestel kon word.
Hierdie proefvertaling wat deur die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) gepubliseer is, is in 1934 as verlore aangemeld. Op 16 Maart 2023 is die vertaling egter in die NG Kerk Argief op Stellenbosch opgespoor.
In hierdie bydrae word die ontluikende rol van die 1920-proefvertaling vir Afrikaans as Bybeltaal gedemonstreer deur die beskrywing en ontleding van geselekteerde vertaalvoorstelle en -keuses. As een van die tekste van ’n aanvangstekensisteem vir ’n Bybelvertaling in Afrikaans word die trajek daarvan gevolg deur die proefvertalings van 1922 en 1929, sowel as die eerste volledige vertaling van 1933 (en sy hersiening in 1953), om die invloed daarvan op die ontluiking van Afrikaans as Bybeltaal te bepaal.
Van ‘brabbeltaal’ tot Bybeltaal, van ‘kombuistaal’ tot kerktaal en kanseltaal, van ‘bastertaal’ (‘verbasterde Hollands’) tot rasegte Afrikaanse taal, van ‘dialek’ tot selfstandig volgroeide en volwaardige taal – dit is die wonder van die ontwikkeling van Afrikaans in ’n klein aantal jare – minder as ’n halfeeu. (Du Plessis, 1959:91)