Die ervaring van Afrikaans as konferensietaal in ’n oorwegend Engelstalige globale omgewing

The experience of Afrikaans as a conference language in a predominantly English-language global environment

Authors

  • Bert Olivier Universiteit van die Vrystaat

Keywords:

Afrikaanssprekend, Amerikaanse Engels, Gadamer, globalisering, Heidegger

Abstract

’n Titel soos die bostaande mag eienaardig, selfs eksentriek voorkom, dog wanneer dit in die globale konteks van die dominansie van (hoofsaaklik Amerikaanse) Engels geplaas word, is dit volkome sinvol vir ’n moedertaal-spreker. Voorlopig kan dit verstaan word vanuit Heidegger se opvatting van taal as “die huis (tuiste) van syn”. Daar moet verduidelik word wat ek hiermee bedoel, en daarvoor begin ek deur op Fredric Jameson se opmerking oor die “geopolitiese estetiese” (“geopolitical aesthetic”) uit te brei, wat daarop neerkom dat, teen die laaste dekades van die vorige eeu, Amerikaanse kultuur – veral in Hollywood-gewaad – die internasionale sfeer deurtrek het, met die gevolg dat die enigste twee kulture wat volgens Jameson nog daarteen “uitgehou” het, die Franse en die Kubaanse was. Hierdie interessante verskynsel is in ’n ander perspektief geplaas toe ek en my lewensmaat ongeveer 10 jaar gelede ’n opvoedkundige konferensie in Osaka, Japan, bygewoon het, en die ervaring gehad het van twee Japannese taalkundiges wat ’n referaat gelewer het oor die statistiese frekwensie waarmee Japannese se eie spreektaal met Amerikaans-Engelse uitdrukkings deurspek is – waarvoor hulle geen verklaring aangebied het nie. In die lig van die internasionale (neokoloniale) dominansie van Amerikaanse Engels is dit egter geensins verbasend nie, en vind ’n mens dieselfde verskynsel in die geredelikheid waarmee veral jong Afrikaanssprekendes Amerikaans-Engelse uitdrukkings (byvoorbeeld “cool”) in hul spreektaal gebruik. Die verklaring is myns insiens voor die hand liggend, en kan aan die hand van die antropologiese verskynsel van “cargo cults” (“vragkultusse”) verduidelik word, wat ’n metonimiese verklaring van artefakte insluit. Teen hierdie agtergrond word daar dan aandag geskenk aan die genot wat ’n mens ervaar wanneer jy jou by konferensies van die Nederlands-Afrikaanse Wysgerige Vereniging tussen Afrikaans- en Nederlandssprekende kollegas bevind. Die redes hiervoor word op verskillende vlakke geformuleer, insluitende die kulturele, psigologiese, taalkundige en filosofiese, waar laasgenoemde met die fenomenologiese betekenis en implikasies van die talige leefwêreld te make het.

Author Biography

Bert Olivier, Universiteit van die Vrystaat

Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat, Suid-Afrika

Downloads

Published

2025-03-22

Issue

Section

Navorsings- en oorsigartikels