Die rol van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) in die ontginning van die natuurwetenskappe in Afrikaans die afgelope honderd jaar
The role of the South African Journal of the Natural Sciences and Technology (SATNT) in the exploitation of the natural sciences in Afrikaans over the past hundred years
Keywords:
akademies, beskrywende terminologie, geskiedenis, taal, terminologie, vaktaal, vakverenigings, sitasie, Akademia, woordeboek, verengelsing, aanlyn, Hiemstra-trust, Medpharm, AOSISAbstract
Die ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal is onder meer te danke aan die ondersteuning van dosente aan veral histories Afrikaanse universiteite, navorsingsrade en staatsdepartemente (byvoorbeeld die vaktaalburo). Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) het ’n baie belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van vakterme en vakwoordeboeke in die natuurwetenskappe en tegnologie. In die biologiese wetenskappe het veral die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Onderwys (tans Noordwes-Universiteit) in vroeër jare en die Universiteit van Pretoria later ’n beduidende rol hierin gespeel. Mediese terme is aanvanklik aan die Universiteit van Stellenbosch en later ook aan die Universiteit van Pretoria ontwikkel. Afrikaanse handboeke by universiteite en skole, ondersteun deur vakwoordeboeke, het beslag gegee aan die nuutgeskepte terminologie. Tot laat in die 1980’s was baie vakverenigings in die natuurwetenskappe tweetalig en aanbiedings by kongresse kon in Afrikaans gelewer word. Met die toename aan histories Afrikaanse universiteite van studente en dosente wat nie Afrikaans kon praat of verstaan nie en die nuwe politieke bedeling ná 1994 het die meeste vakverenigings later slegs Engels gebruik. Nagraadse studente kan nog steeds in Afrikaans voordragte lewer by die studentesimposiums van die SAAWK, maar vir senior navorsers is daar nie veel meer opsies as by die jaarlikse kongresse van die SAAWK, sowel as by Akademia, die nuwe Afrikaanse tersiêre instelling, nie. Vroeër het sommige vaktydskrifte Afrikaanse manuskripte gepubliseer, maar daar is tans prakties net die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) en LitNet Akademies waar Afrikaanse artikels oor die natuurwetenskappe nog gepubliseer kan word.
Die SATNT publiseer al bykans 43 jaar artikels in Afrikaans, maar weens die veranderde politieke omgewing en die gepaardgaande aanpassings aan universiteite se taalbeleide is daar algaande al hoe minder artikels aangebied vir publikasie in die tydskrif. Die lewensbloed vir navorsers in die natuurwetenskappe is die sitasie van publikasies. Daar was ’n groot stryd om ook enkele publikasies in Engels in die SATNT toe te laat. ’n Oplossing is gevind deur die gedrukte kopie slegs in Afrikaans te publiseer, maar voorsiening daarvoor te maak dat Engelse artikels aanlyn ingedien en ook gekeur kan word, maar dat voordat die manuskrip aanvaar word, ’n Afrikaanse taalkundig versorgde manuskrip ingedien moet word. Hierdie benadering blyk ’n wen-wen-oplossing te wees. Om die voortbestaan van die hoër funksies in Afrikaans te bewaar, word geen bladgelde gehef nie en is daar ondersteuning vir taalversorging in Afrikaans beskikbaar deur die SAAWK. Die ontwikkeling van Akademia as Afrikaanse tersiêre instelling in die ooste van Pretoria open opwindende vooruisigte vir die behoud van Afrikaans as wetenskapstaal alhoewel Afrikaans tans steeds as erkende onderrig- en navorsingstaal by die Universiteit Stellenbosch en die Noordwes-Universiteit gebruik word.