Orania se jaarlikse openbare vakansiedag en fees ter viering van Afrikaans

Orania’s annual public holiday and festival celebrating the Afrikaans language

Authors

  • Jannie Rossouw Universiteit van die Witwatersrand

Keywords:

Afrikaans, Afrikaner-kultuurgemeenskap, status as amptelike taal, eeufeesviering, Genootskap van Regte Afrikaners, jaarlikse Taaldagvieringe, plaaslike openbare vakansiedae, Orania, Orania Kunsteraad (OkeR), Taaldag, 14 Augustus

Abstract

Orania is geleë in die Noord-Kaapprovinsie van Suid-Afrika, sowat 160 kilometer suid van Kimberley, op die suidelike oewer van die Oranjerivier. ’n Uitsonderlike kenmerk van Orania is die feit dat al die inwoners Afrikaanssprekend is. Om hierdie rede word Orania as ’n kultuurgemeenskap van Afrikaners beskou.

Navorsing is in die verlede oor verskeie aspekte van Orania onderneem en gepubliseer. Een aspek wat egter nie in die literatuur gedek word nie, is Orania se eie struktuur van openbare vakansiedae, en veral die viering van Taaldag op 14 Augustus as ’n openbare vakansiedag. Hierdie leemte in bestaande literatuur word met hierdie artikel aangevul deur te fokus op Orania se eie vakansiedae en sy jaarlikse viering van Taaldag, en wel teen die agtergrond van die deurlopende eeufeesvieringe in die res van Suid-Afrika in 2025 van die verklaring van Afrikaans tot amptelike taal. Taaldagvieringe in Orania duur elke jaar ’n hele week en verskeie byeenkomste, gesellighede en konserte word onder meer aangebied.

Orania se keuse van 14 Augustus as Taaldag ter viering van Afrikaans is ietwat ongewoon, aangesien die datum 14 Augustus 1875 betrekking het op die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl. Dit is voor die hand liggend dat 27 Mei as Taaldag in Orania herdenk behoort te word, want dit is immers die dag waarop Afrikaans se status as amptelike taal van Suid-Afrika, naas Engels en Nederlands, in 1925 erken is. In hul keuse van 14 Augustus vereenselwig Oraniërs hulle doelbewus met die pioniersgees van die stigterslede van die GRA.

Hierdie bydrae dien as basis vir verdere navorsing oor Orania se unieke openbare vakansiedae en die kulturele waarde daarvan in vergelyking met kulturele aktiwiteite in Suid-Afrika in die algemeen. Voorts vorm dit ook ’n basis vir verdere vergelykende studies oor Afrikaanse feeste, byvoorbeeld die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn, die Toyota US-Woordfees op Stellenbosch of Aardklop op Potchefstroom.

Author Biography

Jannie Rossouw, Universiteit van die Witwatersrand

Ereprofessor: Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg, Suid-Afrika

Downloads

Published

2025-03-22

Issue

Section

Toelatingsartikels