’n Eerste beraming van Orania se bruto geografiese produk

A first estimate of Orania’s gross geographical product

Authors

  • Jannie Rossouw Universiteit van die Witwatersrand

Keywords:

Afrikaans, Afrikaner, bruto geografiese produk, ekonomiese bedrywigheid, Orania

Abstract

Orania is ’n dorp met ’n bevolking van sowat 3 000 mense op die suidelike oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaapprovinsie van Suid-Afrika. Die dorp is sowat 160 kilometer suid van Kimberley, die Noord-Kaap se hoofstad, geleë. Die Afrikanergemeenskap van Orania se doelwit is groeiende selfbeskikking. ’n Eerste opvallende kenmerk is dat Afrikaans die enigste taal is wat op die dorp gebruik word, gegewe die bevolkingsamestelling. Die bevolkingsamestelling, naamlik ’n Afrikanergemeenskap, word onder meer behou deur ’n stelsel van verblyfreg toe te pas. Verblyfreg is ’n voorreg wat aan ’n aansoekproses onderworpe is.

Daarbenewens beoefen die dorp selfwerksaamheid, wat in die praktyk beteken dat voorkeur gegee word aan die indiensneming van Orania se eie inwoners, naamlik diegene met verblyfreg. Persone van buite die dorp kan slegs met vooraf verkreë toestemming vir tydperke van langer as twee dae in Orania werk. Derdens is ’n koepon (die ora, of ɸ) in Orania in omloop. Die ora word uitgereik teen ’n koers van ɸ1,00 = R1,00. Aangesien die inwoners van Orania die woord ora verkies wanneer bedrae ter sprake is, word dieselfde konvensie (waar toepaslik) in hierdie artikel gebruik.

Hierdie artikel brei vorige navorsing oor ekonomiese aangeleenthede van Orania uit. Beskikbare literatuur fokus hoofsaaklik op Orania se doelwit van groeiende selfbeskikking en ander aspekte van die gemeenskap. Hierteenoor is daar in die literatuur slegs ’n beperkte fokus op Orania se ekonomie en die vlakke van ekonomiese bedrywigheid. Hierdie artikel dra daartoe by om hierdie leemte in die literatuur te vul.

Omvattende sensusse van die bevolking en sakebedrywighede is in Desember 2021 en vroeg in 2022 in Orania opgeneem. Hierdie sensusse het die dorp se bevolking, huishoudelike en persoonlike inkomste, en besigheidsinkomste gerapporteer. Op grond van hierdie data is die totale persoonlike jaarlikse inkomste van Orania se inwoners op ɸ295 672 222 beraam, terwyl die jaarlikse huishoudelike inkomste op ɸ190 331 179 beraam is. Jaarlikse besigheidsomset vir 2021 is op Φ281 950 000 beraam. Ná die inkomsteberamings is ’n volgende stap die beraming van ekonomiese bedrywigheid in Orania. Dit behels die beraming van die bruto geografi ese produk (BGP). In hierdie navorsing is die inkomstemetode gebruik om Orania se BGP te beraam.

Die BGP vir 2021 is op ɸ344,7 miljoen beraam, terwyl die beraming vir 2023 ɸ462,0 miljoen beloop. Hierdie syfers verskaf ’n vertrekpunt vir verdere navorsing oor Orania se vlak van ekonomiese bedrywigheid en jaarlikse reële ekonomiese groei.

Author Biography

Jannie Rossouw, Universiteit van die Witwatersrand

Besoekende professor: Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg, Suid-Afrika

Downloads

Published

2025-06-30

Issue

Section

Navorsings- en oorsigartikels