’n Nuwe geopolitieke landskap: Die EU en die VK ná Brexit

Reflection on Brexit: The EU and the UK after Brexit

Authors

  • Riaan Eksteen Universiteit van die Vrystaat

Keywords:

Brexit, doeane-unie, enkelmark, Europese Geregshof, Europese Unie, NAVO, veiligheid, verdediging, Verenigde Koninkryk

Abstract

Gegewe die gevestigde rol wat die Europese Geregshof (EG) in die EU speel, sal dit ook ’n delikate politieke twispunt tussen die twee partye (die VK en EU) in hul post-Brexit-verhouding bly. Brexit kan beskou word as ’n belangrike keerpunt in Europese politiek, wat die ingewikkeldheid van politieke transformasie en streeksintegrasie beklemtoon. Die omvang daarvan is steeds besig om toe te neem namate nuwe vennootskapmodules gedefinieer word. Wat die VK probeer nastreef, is verbeterde en ambisieuse verhoudinge met verskillende Europese vennote. Omdat Brexit bepaalde veranderinge in die EU se buitelandse beleid tot gevolg gehad het, naamlik op die gebied van veiligheidsamewerking en handelsbetrekkinge, het dit gevolglik meer en meer ’n onderwerp rakende buitelandse aangeleenthede en veiligheidsbeleid geword. In reaksie hierop het lidstate die verbetering en konsolidasie van hul verdedigingsamewerking begin prioritiseer en is die EU se wêreldwye invloed onteenseglik deur Brexit verminder. Die gebrek aan die VK se invloed kan pogings tot verdere integrasie tussen die oorblywende lidstate belemmer, aangesien individuele state botsende belange begin nastreef. Alhoewel die EU op ’n positiewe wyse met die VK skakel om eenheid en onafhanklik heid te beveilig en samewerking te soek wanneer doelwitte ooreenstem, moet daar ook ’n ingewikkelde en onsekere globale situasie ná Brexit hanteer word. So sal beide noodwendig kreatief moet aanpas by hul onderskeie, en moontlik gesamentlike, nuwe posisies binne ’n veranderde en uitgebreide geopolitieke landskap.

Author Biography

Riaan Eksteen, Universiteit van die Vrystaat

Navorsingsgenoot, Departement Politieke Studie en Regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika

Downloads

Published

2025-09-29

Issue

Section

Navorsings- en oorsigartikels