Kreasionisme, Intelligente Ontwerp en Natuurwetenskap
Creationism, Intelligent Design, and Natural Science
DOI:
https://doi.org/10.17159/TGW.2026.66.1.2816Keywords:
Natuurwetenskap, kreasionisme, intelligente ontwerp, vergelykende anatomie, embriologie, paleontologie, evolusie, Kambriese diversifikasie, sterrekundeAbstract
In 1859 veroorsaak Charles Darwin `n intellektuele waterskeiding tussen wetenskap en geloof met sy boek On the Origin of Species by Means of Natural Selection waarin hy aantoon dat spesies natuurlikerwys verander, dat nuwe spesies so ontstaan en dat spesies nie onveranderlik is nie. Sedertdien het die speelveld tussen wetenskap en geloof konseptueel verander. Ondanks die enorme databasis wat tans die bevindings van die natuurwetenskappe en spesifi ek die evolusionêre biologie ondersteun, verskyn daar steeds bewerings van godsdienstige Fundamentaliste dat sulke bevindings op losse skroewe staan, of doodgewoon onwaar is. Redelike mense aanvaar egter dat bewese navorsing nie lukraak as ongeldig afgemaak kan word nie, maar slegs deur beter navorsing aan te bied (Sagan 1979:62).
In 2023 verskyn daar vier bydraes in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe 63(2), naamlik Dreyer, Van der Walt & Denton, 2023:192-210, Dreyer & Van der Walt 2023a:211-228, Dreyer & Van der Walt 2023b:229-245 en Dreyer & Van der Walt 2023c:246-261 (hierna TGW-outeurs) wat oënskynlik oor wetenskap en godsdiens handel. In hulle diskoers skep die TGW-outeurs die indruk dat hulle wetenskaplike bevindings op ’n verantwoordelike en gebalanseerde manier hanteer, maar omseil telkens bewese bevindings ten gunste van die naïewe realisme van die Kreasionisme en Intelligenteontwerpkreasionisme (hierna: IO). Hierdie bydrae is gevolglik afgestem op ’n kritiese beoordeling van die manier waarop die TGW-outeurs wetenskaplike data, aan die hand van hulle eiesoortige vertolking van die reformatoriese geloofsoortuiging, deur die lens van die Kreasionisme en IO plooi, asof dit hulle siening van die werklikheid ondersteun. Spangenberg (2023:952) wys juis daarop: “Navorsers kan nie hulle navorsing begin deur ’n aantal geloofsveronderstellings uit te spreek wat die navorsing sal begelei nie. Doen navorsers dít, lei hulle gevolgtrekkings gewoonlik terug na hulle voorveronderstellings.”
Die TGW-outeurs verleen besondere prominensie aan die aansprake van die tradisionele Kreasionisme en hedendaagse IO. Dit is dus belangrik om die herkoms en ongelukkige geskiedenis van die Kreasionisme in Suid-Afrika, asook die ontstaan en verval van IO, vlugtig onder die loep te neem.