Kan voorheen bevoordeelde wit Afrikaans-sprekende Suid-Afrikaners en Namibiërs op dieselfde manier dekoloniseer as hul voorheen benadeelde landgenote?
Keywords:
apartheid, dekolonialiteit, empatie, kolonialiteit, kolonialisering, kritiese oorgrensdenke, wit AfrikaanssprekendesAbstract
Die begrip dekolonialisering en verwante begrippe soos kolonialiteit, kolonialisme, dekolonialiteit en postkolonialiteit word gewoonlik met verwysing na die oorspronklike inheemse mense van voormalige kolonies in die Globale Suide gebruik, dus in verband met diegene wat op die een of ander manier sedert die laat 1400’s aan die ontvangkant van kolonisering (en apartheid) was. Die vraag is of wit Afrikaanssprekendes op dieselfde manier kan dekolonialiseer as hulle landgenote wat voorheen onder kolonisering en apartheid deurgeloop het. Die ondersoek lei tot die gevolgtrekking dat wit Afrikaanssprekendes nie ten volle en sonder meer in staat is of sal wees om op presies dieselfde manier te dekolonialiseer as hul landgenote nie.
Om hierdie rede word aanbeveel dat hulle ’n ander benadering tot dekolonialisering / dekolonialiteit sal volg, naamlik om te volhard met ’n eie unieke vorm van oorgrensdenke en met ’n strewe na sosiale gelykheid en wederkerigheid. Daar word ook aanbeveel dat hulle die uitvoering van hierdie twee stappe as ’n morele imperatief sal beskou omdat hulle dieselfde lot as hulle landgenote deel. Daarmee kan hulle meewerk aan ’n nuwe toekoms vir hulle land, die verdelingslyne van die verlede help oorbrug, begrip toon vir die sorge en moontlikhede van diegene aan die ander kant van die rasse-, etniese, kulturele en selfs geslags- en gendergrense, omgee vir diegene in nood, en ’n handreiking doen soos en waar nodig.