“It just hits home”: ʼn Analise van respondente se ervaring van variëteite van Afrikaans in gewonetaaldokumente
“It just hits home”: An analysis of respondents’ experience of varieties of Afrikaans in plain-language documents
Keywords:
gewone taal, variëteite, Standaardafrikaans, Kaapse Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans, ervaring, positiewe ervaring, negatiewe ervaringAbstract
Gewonetaaldokumente poog om toeganklik vir alle lesers te wees. Tóg reken Burger (2023) dat daar verskeie faktore rakende lesers se taalgebruik is wat hul ervaring van gewonetaaldokumente beïnvloed. Hierdie studie ondersoek die invloed wat die gebruik van verskillende variëteite van Afrikaans in gewonetaaldokumente op lesers se ervaring van daardie dokumente het. Onderhoude is met tien huistaalsprekers van Kaapse en/of Namakwalandse Afrikaans gevoer waartydens respondente gevra is om drie weergawes van ’n gewonetaalteks te lees: een in Standaardafrikaans, een in Kaapse Afrikaans en een in Namakwalandse Afrikaans. Daarna is hul ervarings met die dokumente deur middel van verskeie vrae ondersoek. Die resultate dui aan dat respondente oor die algemeen meer positiewe ervarings met die weergawe in Standaardafrikaans gehad het, veral as hulle gereeld daarmee in geskrewe vorm of in hul omgewing in aanraking kom. Nietemin het sommige respondente hierdie weergawe as minder verstaanbaar ervaar, wat tot ’n negatiewe leeservaring gelei het. Huistaalsprekers van Kaapse of Namakwalandse Afrikaans het oorwegend positiewe ervarings gehad met die dokumente wat in hul variëteite geskryf is. Die studie toon verder dat daar ’n noue verband is tussen ’n positiewe leeservaring en verstaanbaarheid. Nietemin het sommige respondente gevoel dat die gebruik van variëteite in geskrewe formaat nie altyd gepas is nie. Respondente wat nie ’n spesifieke variëteit magtig is nie, het ook gesukkel om die teks in daardie variëteit te verstaan. Hierdie studie toon dus dat die gebruik van variëteite in gewonetaaldokumente beide voordele en nadele inhou.