Afskrikking in die konteks van hedendaagse strategiese mededinging: Lesse uit Oekraïne
Deterrence in the context of contemporary strategic competition: Lessons from Ukraine
Keywords:
afskrikking, militêr, NAVO, Oekraïne, Rusland, strategie, veiligheid, die WesteAbstract
Hierdie artikel ondersoek die eff ektiwiteit van afskrikking as ’n veiligheidstrategie in die konteks van hedendaagse strategiese mededinging, en fokus op lesse uit die 2022-Russiese inval in Oekraïne. Die artikel bespreek die historiese konteks van NAVO se uitbreiding en Rusland se toenemend aggressiewe optrede wat tot die inval gelei het. Die konsep van afskrikking word ook bespreek, asook soorte afskrikking – afskrikking deur weiering, afskrikking deur straf, en verlengde afskrikking – en deurslaggewende aspekte van afskrikking soos vermoë, wil, geloofwaardigheid, kommunikasie en opvattings.
Die oorlog in Oekraïne beklemtoon die beperkings van afskrikking teen vasberade teëstanders en die belangrikheid van robuuste, aanpasbare verdedigingstrategieë vir kleiner state. Sleutellesse sluit in die noodsaaklikheid van formele verdedigingsooreenkomste vir verlengde afskrikking, die handhawing van geloofwaardige en uitgebreide militêre vermoëns en die duidelike kommunikasie van verdedigingsvermoëns. Die konflik beklemtoon ook die blywende relevansie van konvensionele magte, die behoefte aan tegnologiese vooruitgang en die belangrikheid daarvan om ’n teëstander se kostevoordeelberekening en risikotoleransie akkuraat te bepaal.