Politieke oorgangskrisis en basuine van burgeroorlog: ’n vergelyking tussen Frankryk en die VSA
Political transitional crisis and trumpets of civil war: a comparison between France and the USA
Keywords:
Asimmetriese multikulturalisme, burgeroorlog, kultuurteikens, drumpeleffekte, gesagstryd, verdringing, Groot Vervanging, ideologiese horison, massamigrasie, polarisering, politieke faksievorming, oorgangskrisis, stedelik-plattelandse verdelingsAbstract
Die afgelope jare is ’n politieke oorgangskrisis in Frankryk en die VSA merkbaar. Diep politieke verdelings, vertrouenskrisisse en politieke faksievorming gaan gepaard met demografiese inkrimping, groeiende nie-Westerse bevolkingsgroepe en massamigrasie, uiteenlopende groepsidentiteite en toekomsvisies, heftige ideologiese stryde, en geopolitieke magsverskuiwings. Anders as twee generasies gelede, beskou groot getalle burgers hulle moontlike demografiese en kulturele vervanging as ’n werklikheid. Etlike burgers, invloedryke politici en meningsvormers beskou selfs burgeroorlog as ’n moontlike toekomsscenario. Hierdie ontwikkelinge bevestig teorieë oor die konflikpotensiaal indien een groep ’n ander reeds langer gevestigde groep se ekologiese nis betree, indien ’n groep benadeel of gefrustreerd voel omdathulle beleidsvoorkeure nie toegestaan word nie, of indien etniese groepe die risiko loop om hul vorige dominante status te verloor en polities uitgesluit te word. Die akademiese domein oor die oorsake en vorms van ernstige sosiopolitieke geweld in multikulturele Westerse ordes loop weens magstryde die risiko om aan prosesse van marginalisering, uitsluiting, verwringing, sensuur, selfsensuur, ideologiese stamdenke en selfs intimidasie onderworpe te raak. Dit is waarskynlik dat die veerkragtigheid van Franse of Amerikaanse politieke ordes in die volgende dekades ernstige insinkings sal beleef. Dat sosiopolitieke faksiestryde dan tot ’n burgeroorlog of ’n minder demokratiese stelsel met invloedryke sekurokrate lei, kan nie uitgesluit word nie. In teenstelling met wat David Betz aanvoer, is ’n burgeroorlog egter nie onvermydelik nie. So ’n verloop, soos ander moontlike uitkomste, sou kontingent en nie-lineêr wees en afhang van politieke rolspelers en hul optrede of versuim, reaksies en onvoorsiene gevolge, ennuwe intredende faktore en stelselverskuiwings.