Die Irannese kern(wapen)dossier: Implikasies vir Israel se nasionale veiligheid ná 7 Oktober 2023 (Deel I)
The Iranian nuclear file: Implications for Israel’s national security after 7 October 2023 (Part I)
Keywords:
Iran, kernwapens, Israel, 7 Oktober, 2023, kernwapenskild, kernterreur, handlangeroorloë, terreur, Hamas, HezbollahAbstract
Vrese oor ’n kerngewapende Iran bly ’n belangrike kwessie in die internasionale politiek. Argumente dat Israel, die VSA en die internasionale gemeenskap nie met ’n kerngewapende Iran kan saamleef nie, word dikwels aangevoer en die argument het uiteindelik as primêre beweeggrond vir die onlangse Israeliese en Amerikaanse aanval op Iran se kernaanlegte gedien. Ná die gebeure van 7 Oktober 2023 het dié vrese wyd uitgekring. Sulke argumente en vrese spruit gewoonlik voort uit ’n drieledige stel argumente waarin ’n kerngewapende Iran as ’n bestaansbedreiging vir die VSA, Israel en die internasionale gemeenskap voorgehou word: Eerstens sal ’n Irannese kernwapen dié land se ondersteuning van handlangeroorloë of terreur drasties vergroot; tweedens sal Iran ’n kernwapen aan eensgesinde terreurgroepe kan verskaf, wat die vrees vir kernterreur ingrypend verhoog; en laastens sal Iran nie huiwer om ’n kernaanval jeens Israel te loods nie. Hierdie ontleding fokus hoofsaaklik op die eerste punt en word deur twee navorsingsvrae gerig: (i) Hoe sal die nasionale veiligheidslandskap van Israel daar uitsien indien Iran kernwapens het, met spesifieke verwysing na ’n oënskynlike toename in handlangeroorloë en terreur? Anders gestel: Sal ’n Irannese kernwapenskild ’n toename in terreur en handlangeroorloë meebring? (ii): In welke mate, indien enigsins, het die gebeure van 7 Oktober 2023 die risiko van ’n toename in handlangeroorloë en terreur vergroot, beskou teen die agtergrond van ’n Irannese kernwapen skild?