Beste praktyke vir Liggaamlike Opvoedingonder wysersopleiding in afstandsonderrigmodus: ’n Sistematiese literatuuroorsig
Best practices for Physical Education Teacher Education (PETE) in distance education mode: A systematic literature review
DOI:
https://doi.org/10.17159/TGW.2026.66.1.3654Keywords:
Liggaamlike Opvoeding, onderwyseropleiding, afstandsonderrig, beste praktyke, uitdagings, Teorie van Transaksionele Afstand (TTA)Abstract
Die toenemende integrasie van digitale tegnologie het die afgelope dekades beduidende verskuiwings in onderrig- en leerpraktyke in hoër onderwys teweeggebring, insluitend in die opleiding van onderwysers. In Liggaamlike Opvoeding-onderwysersopleiding het hierdie ontwikkeling veral gemanifesteer in ’n groeiende fokus op afstands- en aanlyn onderrig. Ten spyte van die potensiaal van hierdie onderrigvorm, dui bestaande navorsing daarop dat daar steeds pedagogiese en praktiese uitdagings bestaan. Die doel van hierdie studie was om deur middel van ’n kwalitatiewe sistematiese literatuuroorsig beste praktyke en kernuitdagings in afstands- en aanlyn Liggaamlike Opvoeding-onderwysersopleiding te identifiseer en te interpreteer. Die studie is teoreties begrond in die Transaksionele Afstandsteorie, in samehang met ’n sosiaal-konstruktivistiese perspektief. Die oorsig is uitgevoer volgens die PRISMA-riglyne en het sistematiese soektogte in geselekteerde EBSCOhost-databasisse asook Scopus en Google Scholar ingesluit. Studies wat tussen 2002 en 2024 gepubliseer is en gefokus het op die ervarings van studente en dosente in tersiêre afstands- of aanlyn Liggaamlike Opvoedingonderwysersopleiding, is in ag geneem. Metodologiese gehalte is beoordeel aan die hand van die CASP-kontrolelys waarna ’n tematiese sintese gevolg het. Uiteindelik is 17 studies wat aan die seleksiekriteria voldoen het, ingesluit. Twee oorhoofse temas het na vore gekom, naamlik die voordele en goeie praktyke van afstandsonderrig, asook die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Bevindinge dui daarop dat buigsaamheid, selfgerigte leer en toeganklikheid van leerinhoud positief ervaar word, terwyl effektiewe tegnologiegebruik en die doelgerigte aanwending van kwaliteitvideo’s as betekenisvolle pedagogiese praktyke geïdentifiseer is. Daarteenoor het onvoldoende praktiese blootstelling, tegnologiese beperkings, beperkte sosiale interaksie en gebrekkige terugvoer die leerervaring negatief beïnvloed. Die studie bevestig dat doelbewuste kursusontwerp, pedagogiese beplanning en sinvolle dialoog steeds sentraal staan tot Liggaamlike Opvoeding-onderwysersopleiding van goeie gehalte in afstandsmodus. Die studie bied ook riglyne vir toekomstige module-ontwikkeling in hierdie konteks.