“Oorloë en gerugte van oorloë”: Vraagstukke oor oorlog en vrede in die een-en-twintigste eeu

Oorlog: ’n ingekankerde reisgenoot

Authors

Abstract

Om aan te voer dat daar in die geskiedenis van die mensdom gedurig bloedvergieting was, is beswaarlik oordrewe of aanvegbaar. Ofskoon daar dikwels, veral deur regeringslui, daarop gesinspeel word dat oorlog ’n onwenslike afwyking is, is die harde werklikheid dat oorlog diep verweef is in die geskiedenis en ontwikkeling van die mensdom (MacMillan, 2021:2). Bewyse van ’n diepgewortelde menslike neiging om andere op ’n sistematiese, georganiseerde en doelgerigte wyse met ’n aansienlike mate van geweld – kortom, deur oorlog te maak – aan te val, dateer uit die vroegste tye in die mens se geskiedenis (MacMillan, 2021:16). Argeologiese opgrawings dui onmiskenbaar aan dat oorlog reeds van vroeg af ’n integrale deel van die mens se bestaan (en voortbestaan) uitmaak, ’n waarneming wat, terloops, nie net op die Westerse geskiedrol van toepassing is nie (Keeley, 1996). Tragedie, en oorlog as ’n uiting daarvan, is in wese die norm (Brands & Edel, 2019:22). Tog wys die geskiedenis ook dat, ofskoon tragedie en oorlog die norm is, die drang na vrede en vooruitgang eweneens die verbeelding van die mensdom dermate aangegryp het (en steeds aangryp) dat daar in die geskiedenis etlike rolspelers (in beide regeringskringe en die burgerlike samelewing) aangeteken is wat ten doel gehad het om tydperke van vrede teweeg te bring. Die strewe om brûe tussen eens vyandige groepe, koninkryke en, meer onlangs, moderne state te bou het dikwels tydperke van vrede – hoewel dikwels kortstondig – ingelui. Té dikwels het wydverspreide optimisme, gewoonlik vervat in verklarings dat die pas beëindigde oorlog die een is wat alle ander oorloë sal voorkom, spoedig uitgeloop op nog ’n vernietigende oorlog.

Author Biographies

Eben Coetzee

Gasredakteur

Theo Neethling

Gasredakteur

Downloads

Published

2025-12-03

Issue

Section

Woord vooraf