Sowjetkritieke op Jan Smuts se holisme as politieke filosofie
Soviet critiques of Jan Smuts’ holism as political philosophy
DOI:
https://doi.org/10.17159/TGW.2026.66.1.3943Keywords:
Jan Smuts, holisme, liberalisme, Sowjet-filosofie, politieke filosofie, dialektiese materialisme, Koue Oorlog, imperialisme, rassediskriminasie, Sowjet-Suid-Afrikaanse betrekkinge, Vladimir Vernadsky, Pyotr Anokhin, Ivan Schmalhausen, Marxisme-Leninisme, politieke implikasies van holismeAbstract
Teen die vroeë 1950’s het Jan Smuts se filosofie van holisme in die USSR begin bekend staan as ’n doktrine wat daarop gemik was om die voortsetting van koloniale bewind te rasionaliseer en ’n “wetenskaplike” grondslag te bied vir rassediskriminasie, soos dit in Suid-Afrika toegepas is. Die opkoms van ’n sterk anti-imperialistiese en egalitêre analise van Smuts se doktrine in die na-oorlogse Sowjetunie, wat die huidige evaluerings van hierdie aard met baie dekades voorafgegaan het, is nog nie in die literatuur verreken nie. Sowjetkritiek op holisme as politieke fi losofi e het ’n instrument van propaganda geword, omdat die doktrine geassosieer is met imperialisme, rassediskriminasie en selfs fascisme. Hierdie Sowjetevaluerings van die 1940’s–1950’s het baie gemeen met die sienings van moderne navorsers, wat ’n direkte verband tussen Smuts se filosofie en sy politieke praktyk veronderstel. Beide strome van kritiek spruit voort uit ’n oortuiging dat holisme ’n teoretiese regverdiging vir rassesegregasie en wit oppergesag gebied het. Die evaluerings verskil egter wat konteks en metodologie betref – die Sowjetevaluerings blyk ’n instrument van Koue Oorlog-propaganda te wees. Teen die laat 1960’s het ondersoek na die politieke implikasies van holisme in die Sowjetliteratuur afgeneem. Holistiese idees is geleidelik aanvaar. Jan Smuts se holisme het ’n dubbele rol in Sowjetakademiese diskoers gespeel, en het gedien as ’n bron van inspirasie vir ’n sistemiese wêreldbeskouing sowel as ’n teiken van verpolitiseerde kritiek.