Musiek en die verbeelding van kultuur: Afrikaanse en Suid-Afrikaanse perspektiewe
Music and the imaging of culture: Afrikaans and South African perspectives
DOI:
https://doi.org/10.17159/TGW.2026.66.1.4321Keywords:
klank en kultuur, fonotoop, musiekpedagogiek, Suid-Afrikaanse musiek, Afrikaanse klankwêrelde, kulturele herinnering, boeremusiek, apartheid-sonosfeer, periferie en risiko, postapartheid estetikaAbstract
In hierdie intreerede vir die Leerstoel Suid-Afrika: Tale, Letterkundes, Kultuur en Samelewing aan die Universiteit Gent reflekteer die spreker oor sy musiekwetenskaplike werk binne ’n breër interdissiplinêre raamwerk, met besondere klem op klank as kultuurdraer. Die spreker argumenteer dat kultuur nie slegs deur geskrewe tekste of taal verstaan kan word nie, maar ook deur ourale en soniese raktyke wat sosiale ruimtes vorm. Aansluitend by Peter Sloterdijk se begrip van die fonotoop word klank voorgestel as ’n fundamentele dimensie van menslike samelewing: plekke “klink” soos hul inwoners, en hierdie klankruimtes funksioneer as ervarings van tuiste en selfbeskikking.
Die spreker se navorsing fokus veral op Afrikaanse en Suid-Afrikaanse klankverskynsels, insluitend die soniese ordening van apartheid en die rol van musiek in identiteitsvorming. Deur voorbeelde soos boeremusiek en Die Stem van Suid-Afrika word aangetoon hoe musiek as herinneringsplek funksioneer waar nasionalisme, nostalgie, ironie en skuld in spanning verkeer. Hierdie klankvorme word nie as outentieke uitdrukkings van ’n vaste identiteit beskou nie, maar as dinamiese kulturele konstrukte wat histories en ideologies belaai is.
’n Sentrale tema van die rede is die epistemologiese waarde van die periferie. Die spreker voer aan dat kennisproduksie vanuit die Globale Suide en vanuit marginale kulturele verskynsels besondere seggenskrag het juis omdat dit risiko’s inhou: esteties, eties en historiografies. Hierdie risiko word gesien as noodsaaklik vir oorspronklike en nie-epigoniese akademiese werk. Die rede sluit af met ’n pleidooi vir akademiese en artistieke moed, vir dissiplinêre ongehoorsaamheid, en vir ’n kritiese omgang met geskiedenis waarin klank as draer van herinnering, trauma en moontlikheid ernstig bejeën word.